Bundel toon Knobel verdien plek in literatuur
Louise Viljoen
(from her article in Die Burger, 3.7.2006)
Twee siklusse / Wilhelm Knobel: die ongewapende man op 70, saamgestel deur Deon
Knobel. Bel Monte-uitgewery, Kaapstad, 2005. (Sagteband, 64 bladsye, ISBN?0 620
33912 8, R95.) Bestel by 0?021 4233 661 of knobel@icon.co.za.
DIE digter Wilhelm Knobel, wat in 1974 oorlede is, sou op 26 Oktober 2005 70
jaar oud geword het. Weens sy ontydige dood het hy slegs ’n klein oeuvre
nagelaat: die bundels Bloedsteen (1996) en Mure van Mos (1970) wat gedurende sy
leeftyd gepubliseer is, en ’n bundel nagelate gedigte wat die jaar ná sy dood
verskyn het.
By die 70ste herdenking van sy geboortedag het sy broer, Deon Knobel, die
gedenkbundel Twee Siklusse vrygestel waarin twee van sy reeds gepubliseerde gedigsiklusse, “Donker en
Skerp Lig” en “Bloedsteen” opgeneem is. Naas die gedigte bevat dié bundel ’n
aantal foto’s asook twee waarderings oor Knobel se poësie deur Phil du Plessis
wat reeds by vorige geleenthede gepubliseer is. Dis ’n netjiese uitgawe. Die
enigste beswaar is die nogal “besige” aanbod op die voor-, agter- en skutblaaie.
Die subtitel van hierdie bundel verwys na die digter as die “ongewapende man”,
’n frase wat ’n hele verhaal omtrent Knobel se persoonlike lewe en sy poësie
oproep. Op die skutblad word verwys na die feit dat hy gely het aan bipolêre
steurnis; die subtitel wil dus iets suggereer van sy weerloosheid teen hierdie
siekte waarteen hy hom nie genoegsaam kon “bewapen” nie.
Die frase verwys egter ook na die intertekstuele gesprek wat hy in sy poësie
met Breyten Breytenbach gevoer het. Laasgenoemde het in sy debuutbundel, Die
Ysterkoei Moet Sweet van 1964, ’n gedig geskryf met die titel “vir wilhelm” en
verder ook in een van sy gedigte geskryf: “Dan kom die gekheid soos ’n
gewapende man”. Hierop reageer Knobel dan deur in sy gedig “brief vir breyten”
in Bloedsteen te sê: “Dat jy die waansin só kon sien?/ dui op oopheid van ’n
gesonde gemoed”.
Dit is duidelik dat Knobel voel Breytenbach se verwysing na die gekheid as ’n
gewapende man is ’n literêre beeld eerder as teken van ’n aan-die-lyf-ervaring
van geestesongesteldheid. Daarom eindig hy sy gedig met ’n baie stellige
weerspreking daarvan: “Die gekheid kom nié soos ’n gewapende man nie”. Uit sy
gedig blyk dit dat die gekheid vir hom eerder manifesteer in ’n stilte wat
“kors na kors groei”, die hande vasbind en die stem uitdoof.
Die twee siklusse wat opgeneem is in die bundel, sluit aan by hierdie gegewe.
Waar “Donker en Skerp Lig” ’n demonstrasie is van die digter se worsteling met
sy siekte, kan ’n mens die “Bloedsteen” sien as ’n besinning oor die wyse
waarop die worsteling tot poësie gemaak word.
“Donker en Skerp Lig” verwys na die skerp kontraste wat so kenmerkend is van
Knobel se poësie en waarskynlik groei uit sy siekte. In die eerste gedig van
die siklus word die Nag (volgens hom ook die tuiste van voorganger-figure soos
Rilke, Supervielle, Nerval, Novalis en Achterberg) aangeroep sodat die
“lig-in-reëls” uiteindelik weer daaruit kan voortkom. Ook die donkertes van dit
wat Freud die “familieromanse” genoem het, veral die verhouding met die ouers,
word in hierdie gedigte ondersoek ten einde die lig van begrip daaruit te haal.
Dit is ’n siklus wat boeiende stof vir literêre sowel as psigo-analitiese
ontleding bied.
In die siklus “Bloedsteen” word die spanning tussen rou ervaring en die
beheerste betragting daarvan saamgevat in die metafoor van die bloedsteen.
Knobel skryf self in ’n begeleidende nota dat die druppelvormige rooi kolle in
hierdie groen steen die polsing van lewe vergestalt terwyl die groen kleur
afstand, beheersing en abstraksie verteenwoordig. Dié nota oor die gedig
verteenwoordig op sigself ’n vorm van afstand neem van die gedig wat die leser
nie werklik voorberei op die intensiteit van ervaring wat daaruit spreek nie.
In die gedig Valdeur lyk dit asof die spreker meen dat die moontlikheid om poësie te skryf hom die
geleentheid gee om sekere aspekte van sy innerlike lewe onder beheer te bring:
As die woorde begin droom
gaan ’n valdeur oop in my,
sien ek slanke diere swygsaam
teen die druppende wande uitbeur
van ’n put
Swart letters
op die wit blad
Pen hul glansende lywe gou vas:
’n Laaste rilling halsstarrige lewe
Dan lê hulle stil
twee-twee.
Dit werk egter ook andersom: in een van die ander gedigte sê die spreker dat
dit juis die intense ervarings is wat lei tot kreatiwiteit. Die vyfde gedig in
die siklus begin met dié woorde: “Om jouself uit te brand is sinloos / sou my
vader beweer / ek verkies om te verskil as die uitbrand só vrugbaar kan
verloop!”
Dit is verder opvallend dat die mistieke belewenis van die Katolieke geloof
waartoe Knobel hom later in sy lewe gewend het, ’n bepaalde rol speel in die
sublimering van pyn tot poësie.
Hierdie klein gedenkpublikasie herroep dus op effektiewe wyse Knobel se werk en
maak die leser daarvan bewus dat ’n literêr-historiese herwaardering van sy
werk aangewese is. Dit is byvoorbeeld belangrik om sy posisie tussen die ander
skrywers van Sestig in kaart te bring omdat sy kort, onvoltooide oeuvre
duidelik blyke gee van ’n worsteling met die spanning tussen tradisie en
vernuwing wat so tekenend was van dié tydperk in die Afrikaanse letterkunde.
Verder sou elemente in sy werk gelees kan word as “voorwerk” vir wat later in
die Afrikaanse letterkunde tot bepaalde hoogtepunte sou lei. Sy intertekstuele
gesprekke met Breytenbach is byvoorbeeld ’n voorloper van ’n tendens wat vanaf
die tagtigerjare op die spits gedryf sou word; die elemente van Katolieke
mistiek in sy werk sou deur die werk van Sheila Cussons gevolg word, en sy
siekte-poësie deur ’n bundel soos Opperman se Komas uit ’n Bamboesstok. Sy stem
is een wat nie veronagsaam kan word by ’n terugblik op ons literêre geskiedenis
nie.
Louise Viljoen is professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit
Stellenbosch.
www.StellenboschWriters.com © Rosemarie Breuer